CHRISTENE EN DIE HEMEL

Deur Anthony Buzzard

 

“Nêrens in die Bybel is die hemel die bestemming van die dode nie.” Cambridge Bybel-geleerde, J.A.T Robinson

 

“Geen Bybelteks magtig die stelling dat die siel van die liggaam geskei word by die dood nie.” die hoog-geagde Interpreter’s Dictionary of the Bible (Vol. 1, bl. 803)

 

Waarom praat ons Christene soveel onsin oor ons Christelike bestemming?  Van alle kante hoor ons sprake van “hemel toe gaan,” “deur God geneem te word,” “by Jesus in die hemel te wees,” “weg te val,” of “aan te beweeg” by die dood.  Met sulke bekende taal troos ons onsself deur te glo dat die afgestorwenes ons verlaat het om by God in sy hemelse ryk te wees.  Ons hoop om die dood te oorleef en hom daar tegemoet te gaan.

Behoort ons nie vir ‘n oomblik stil te staan en onsself af te vra nie, Waar kom al hierdie sprake van hemel toe gaan vandaan?

Sekerlik nie uit die Bybel nie.  Byvoorbeeld, wat het die profeet Daniël, een van die heldhaftige, getroue manne van God, verwag by die dood?  Die engel het vir hom gesê:  “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.” (Dan. 12:13)*

Vir Daniël sou die dood ‘n rus-toestand in die stof gewees het (Sien Dan. 12:2, waar die boodskapper die toestand van die dode beskryf as om “in die stof van die aarde [te] slaap”) gevolg deur ‘n opwekking, of opstanding “aan die einde van die dae.”

Daar is geen sprake hier van Daniël se siel wat hemel toe gaan om bewustelik in hemelse heerlikheid te woon nie.  Daniël sou inteendeel gaan rus in die dood en eindelik, aan die einde van die dae, tot lewe opgewek word.  Maar vir watter doel?

“Jy sal…weer opstaan tot jou bestemming (jou deel, LXX; uitgemete erfdeel, Tanakh)” (Dan. 12:13).  So het die engel die hoop van die getroues beskryf.  Wat kon Daniël dan verwag?

Die standaard leksikon van die Hebreeuse Bybel vertel ons dat die “erfdeel” wat Daniël verwag het “’n deel in die Messiaanse voleinding”1  was, waarvan die heerlikheid al die Hebreeuse profete met ontsag gevul het.  Die Messias se koninkryk sou beslis op aarde opgerig word, “onder die ganse hemel,” na aanleiding van ‘n visioen wat vroeër aan Daniël gegee is (7:27).  Die belofte was dat “die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee [sou word] aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste” (Dan. 7:27).  Daardie getroues sou dan oppermagtig heers in die hernieude aarde.

 

Beërwing van die Aarde

            Vanuit Joodse literatuur, beide Bybels en ekstra-Bybels, sien ons hoe hierdie gekoesterde hoop om te deel in die Messiaanse Koninkryk op aarde in die harte van God se volk gebrand het.  Die heerlikheid van die Messias se komende heerskappy, waar die heiliges beloof is om ‘n deel aan te hê, het die vervolgde aanbidders onderskraag wanneer verdrukking op sy ergste was.

            Die einste bestemming word aan die getroues van die Nuwe Testament belowe:  “[Jesus] het [die getroues] konings en priesters vir onse God gemaak, en [hulle] sal as konings op die aarde heers.” (Opb. 5:10).

            Vir eeue lank het die kerke gepoog om die Bybelse hoop tot niet te maak en dit met die vaagste vooruitsig vir liggaamlose lewe in die hemel vervang; verwyderd van die mens se tuiste op aarde.  Niks sou vir Bybelskrywers na groter onsin geklink het nie.  Daar is niks is meer vernietigend vir God se grootse ontwerp vir ons planeet nie.  Die aarde is aan die mens gegee as sy ewige woning.  ‘Beërwing van die aarde’ was die verlange van elke getroue Israeliet en dit was uitdruklik deur Jesus bevestig in sy beroemde reeks salig-sprekinge (Matt. 5:5).  “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”  Sy woorde eggo die koor-gedeelte van Psalm 37 (verse 3, 11, 22, 27, 29, 34) wanneer hy die ootmoediges belowe dat “hulle die aarde [sal] beërwe,” naamlik om die Messiaanse redding te verkry wat Daniël gekoester het.  Wat meer is, is dat die psalmis belowe het dat die gelowiges nie net “die aarde [sou] beërwe” nie, maar dat hulle “vir ewig daarop [sal] woon.” (Ps. 37:29).

            Maar kerke het hierdie waardevolle beloftes verwerp.  Asof hulle die jarelange tradisie van onverstaanbare uitleg van die Skrif deur Heidene wou inprent, het die Good News Bible die punt van Jesus se blye hoop vir die toekoms misgekyk.  Dit gee Mattheus 5:5 op so ‘n wyse weer deurdat die sagmoediges “beërwe wat God belowe het.”  Is hierdie bloot ‘n staaltjie vir hul gehoor wat vermoedelik min sou uitmaak van die belofte om die aarde te beërf, aangesien hul slegs kennis dra van die gekoesterde tradisie om hemel toe te gaan?  Daar is geen rede om eenvoudige stellings in ‘n vaagheid te versteek nie.

            Die hoop wat die Bybel bied is die Messiaanse redding wat die profete vooruitgesien het – een wat nie deur Jesus tot niet gemaak is nie (Matt. 5:17).  Om in die “land van die belofte” te woon was die vooruitsig wat die heilige volk van Israel gehad het sedert daardie eed-verbond aan Abraham gegee is.  Jesus het hierdie grootse beloftes bevestig (Rom. 15:7), en sy dissipels na hul bestemming aangevuur – asook hul toewysing om saam met Daniël deel te hê in die Messiaanse Koninkryk aan die einde van die dae. (Dan. 12:13).

            Hoeveel beter sal dit nie wees nie as Christene die nie-Bybelse taal van hemel toe gaan laat vaar en dit met Jesus se woorde vervang wanneer hy praat van die beërwing van die aardie, die koms vanuit die ooste, die weste, die noorde en die suide om saam met Abraham, Isak en Jakob aan te sit in die Koninkryk van die komende Orde, en te deel in die groot feesmaal in Jerusalem (Matt. 8:11; Lukas 13:28, 29, gebaseer op Jes. 25:6).

            Die Bybel is ‘n boek wat handel in realiteit; wat ‘n realistiese hoop voorhou dat Christene saam met Jesus oor die aarde sal heers wanneer hy terugkeer.  Die engele kondig hierdie blink vooruitsig vir die versoende mensdom aan: “U [Jesus] het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters [vergelyk Ex. 19:5, 6] vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” (Opb. 5:9, 10)

            Deurgaans in die Nuwe Testament word Christene beskryf as erfgename van ‘n grootse toekomstige erfenis – die Koninkryk van God.  Die Koninkryk van God is ‘n saak van belofte en afwagting; ‘n erfenis wat in die toekoms in besit geneem gaan word.  Jakobus sê:  “Luister, my geliefde broeders – het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”  (Jak. 2:5).

            Ons is “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (Rom. 8:17), “volgens die belofte erfgename” (nl. van die Koninkryk, Jak. 2:5, sien hierbo) (Gal. 3:29).  Die Heidene kan “mede-erfgename[,]… medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte [van die Koninkryk, Jak. 2:5] in Christus [wees].”  (Efe. 3:6).

            Op die huidige oomblik, en tydens doop in die Messias, word die Gees van God aan ons gegee as waarborg of vooruitbetaling van ons toekomstige erfenis.  Of, soos dit elders gestel word, is die gees “die onderpand van ons erfdeel” (Efe. 1:14).  Ons het uiteraard dan nog nie die Koninkryk van God binnegegaan nie.  Die gees is die waarborg of pand van ‘n toekomstige erfenis – van die Koninkryk wat aan ons belowe is (Jak. 2:5) maar nog nie ons s’n is nie.

            Twee fundamentele verwarrings in ons denke laat ons in duisternis wanneer ons poog om die Bybel op verstaanbare wyse te lees.  Eerstens verbeel ons onsself dat ons blykbaar reeds die Koninkryk van God beërf het.  Hierdie soort van denke doen afbreuk aan die toekomstige heerlikheid en ontwrig dit die hoop waarop liefde en geloof gebou word (Kol. 1:5).  Paulus sê uitdruklik dat “vlees en bloed [mense in hul huidige liggame] die koninkryk van God nie kan beërwe nie” (1 Kor. 15:50) en dat die

“beloning…wat Hy belowe het” toekomstig is (Kol. 3:24, Nuwe Afrikaanse Vertaling, 1983).  Tweedens sê ons dat ons oombliklik heerlikheid verkry wanneer ons sterf, terwyl die Nuwe Testament ons oral maan om te wag tot die Wederkoms van Jesus.  Die tradisionele “hemel ná die dood”-idee verklein – vernietig selfs – die opwinding in die Nuwe Testament aangaande die Wederkoms van Jesus wanneer hy die getroues sal opwek en beloon – dán, en nie vroeër nie:  “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Matt. 16:27)

 

Die Belofte aan Abraham

            Oorvloedige helder lig sal op die Nuwe Testament gewerp word wanneer ons ophou om dit van die Hebreeuse wêreld in die Ou Testament te skei.  Die belofte aan Abraham was dat hy die voorvader van die Messias sou wees, en dat hierdie Messias beheer oor die land sou neem en dit vir ewig sou besit:  “En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.”  (Gen. 17:8)

            Vir elke godvresende Israeliet was hierdie verbondsbelofte ‘n lig op die horison.  So was dit ook dat Isak se afskeidswoorde die grootste seën vir sy eersgeborene bevat het:  “En [God] sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal [Hy] al hierdie lande gee:  [Hy] sal die eed bevestig wat [Hy] vir jou vader Abraham gesweer het.” (Gen. 26:3)

            Twee duisend jaar later, toe die Nuwe Testament geskryf is, het Abraham nie persoonlik die beloofde land (letterlik, die Land van die Belofte [aan Abraham]) in besit geneem nie.  Stefanus, kort voor sy marteling, het verduidelik dat “[God] aan [Abraham] geen erfdeel daarin gegee [het] nie, selfs nie ‘n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee.”  (Han. 7:5)

            Die skrywer aan die Hebreërs het baie goed geweet dat Abraham, “[T]oe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek [het] na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang” (Heb. 11:8), terwyl hy as bloot ‘n vreemdeling in die beloofde land gewoon het.  Wat Abraham na uitgesien het was blywende inbesitneming van die “land van die belofte.”  Die betrokke land was natuurlik op ons planeet geleë en dit was hierdie land “wat hy as ‘n erfenis sou ontvang” (Heb. 11:8).  Dit is ‘n hemelse land, aangesien dit Goddelik verkies was vanuit die hemel en dit geseën sou word met die teenwoordigheid van die Messias self as God se volmagtigde.  Maar die erfenis wat met ‘n eed aan Abraham gewaarborg is, sal beslis op aarde wees.  Was hy nie uitgenooi om na die “noorde en suide, na die ooste en weste” te kyk nie?  (Gen. 13:14)  God se verbond het hom verseker dat Hy die hele land aan ‘hom sou gee en aan sy nageslag tot in ewigheid.’  (Gen. 13:15)

            God se amptelike reëling om die land aan Abraham te gee word toegejuig as die rots-fondasie van God se voorneme met die mensdom.  In tye van verdrukking het getroues hulself vertroos met hierdie versekering:

 

Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte –

die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;

wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ‘n ewige verbond,

met die woorde:  Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.  (Ps. 105:8-11)

 

            Met die geboorte van Jesus, het Maria gesing van God se wonderlike seën, en dat Hy “aan sy barmhartigheid sou dink – soos Hy tot ons vaders gespreek het – aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”  (Luk. 1:54-55)  Sagaria sing verdere lof tot God, omdat Hy ‘barmhartigheid bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond dink, aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader.’  (Luk. 1:72-73)  Die belofte was die wêreldwye heerskappy deur Jesus Christus, ‘n onderwerp wat gelief was onder sy Apostels toe hulle, ná ses weke van intensiewe opleiding in die “dinge van die Koninkryk” (Han. 1:3), opgewonde vir Jesus gevra het, “Here, gaan u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”  Hierdie episode, wat Lukas soveel vreugde verskaf het, het vele Bybel-kommentators al in die verleentheid gebring, wie se belange ver verwyderd is van dié van die Messias se uitverkore dissipels.

            Die belofte aan Abraham dat hy die “erfgenaam van die wêreld sou wees” (Rom. 4:13) hou ‘n vervulling in tydens Christus se Wederkoms.  Intussen het God die Heidene wat geloof toon in die Koninkryksboodskap, in die naam van Jesus Christus (Han. 8:12), en dan gedoop word, genadiglik toegelaat om mede-erfgename saam met Abraham en Christus te word.  “En as julle aan Christus behoort,” sê Paulus bevestigend, “dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.  3:29). En wat is daardie belofte?

            Die belofte waarborg dat die “seën van Abraham” sal kom na die heidene in Christus (Gal. 3:14).  Ons het reeds gesien wat daardie seën was in Genesis 28:4, naamlik, om blywende inbesitneming van die land te verkry waarin Abraham, Isak en Jakob vreemdelinge was.

            Deur die dood van die Messias word ons deur sy verbondsbloed verlos.  Ons sondes word vergewe.  Deur geloof te betoon in God se vebond met Abraham en Dawid – wat deur Christus se dood bekragtig en deur hom vervul is – moet ons daarna strewe om die belofte aan Abraham in besit te neem.  Ons hoop is om saam met Christus oor die wêreld te heers wanneer hy gaan optree om sy Messiaanse rol in te neem as eerste en enigste geslaagde wêreldheerser.  Tot en met daardie tyd moet ons “waardiglik…wandel voor God wat [ons] tot sy koninkryk en heerlikheid roep.”  (1 Thess.  2:12)

            “Wanneer alles nuut gemaak word [wanneer die skepping nuut gemaak word, Tanakh]” belowe Jesus, “as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat my gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.”  (Matt. 19:28, Nuwe Afrikaanse Vertaling, 1983) “As ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer,” sê Jesus deur middel van Paulus aan die gemeente.  (2 Tim. 2:12, Nuwe Afrikaanse Vertaling, 1983) Die Apostel herhaal hierdie boodskap aan die Korintiërs:  “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel [bestuur, Moffat] nie?”  (1 Cor. 6:2) Jesus bevestig die Christelike doelwit:  “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.”  (Opb. 2:26, 27) Dan voeg Jesus by:  “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”  (Opb. 2:29)

 

Hemel ná die Dood?

            Ten spyte van hierdie en baie ander Bybelse aanduidings, kleef die tradisionele dogma van “hemel ná die dood” steeds aan ‘n paar verse vas.  Het Jesus nie self “skatte in die hemel” (Matt. 6:20) en “’n loon wat groot is in die hemele” (Matt. 5:12) belowe nie?  Is ons hoop nie “weggelê in die hemele” nie?  (Kol. 1:5) Tóg het Jesus die sagmoediges aangemoedig met die vooruitsig om die aarde te beërwe (Matt. 5:5).  Hoe word hierdie oënskynlike teenstrydigheid uitgeklaar?

            Die leidraad word deur Petrus gegee.  Hy praat van ‘n onverganklike erfenis “wat in die hemele bewaar word vir ons…om geopenbaar te word in die laaste tyd.”  (1 Pet.  1:4-5) Al die goeie dinge van die toekoms, sê die leermeesters van die Nuwe Testament, is vir ons opgelê by God.   Tóg beteken dit nie dat ons hemel toe gaan om dit te verkry nie – netso min as wanneer ‘n afgetredene in ‘n bank gaan woon waar sy welverdiende besparings belê is.  Wanneer Jesus terugkeer sal hy toegang tot die Koninkryk van God op aarde en inbesitneming van die wêreld aan alle getroues toestaan.  Daardie belonging word huidiglik in die hemele bewaar en sal dit saam met Christus na die aarde gebring word ten tye van sy Wederkoms.  God sê:

 

                        Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.

Ek wil vertel van die besluit:  Die Here het aan My gesê:  U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.

Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.

U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. (Ps. 2:6-9)

 

            Populêre idees oor die Christelike bestemming bots met wat die Bybel leer.  Skriftuurlik gesproke gaan Christene nie hemel toe nie.  Hemel is waar hul erfenis nou bewaar word.  Jesus kom weer na ons toe “om die erfenis as vergelding” (Kol. 3:24) aan ons te gee, naamlik die inbesitneming van die aarde, vernuwe en gesuiwer onder leiding van die Messiaanse regering.  Die Messias “moet in die hemel bly,” sê Petrus, “totdat God alles nuut gemaak het.  Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê.”  (Han. 3:21, Nuwe Afrikaanse Vertaling, 1983) Dit hoef skaars genoem te word dat geen profeet toekomstige heerlikheid op ‘n plek elders as die herstelde aarde vooruitgesien het nie – ‘n aarde geseën deur die regverdige heerskappy van die Messias en sy mede-heersers:

            “[D]ie heerskappy is op [die Messias se] skouer…tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid.”  (Jes. 9:5, 6) “Kyk, ‘n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorse sal heers volgens reg.”  (Jes. 32:1) “[D]ie Here [sal] in sy trou 'n troon oprig, en daarop sal 'n heerser sit uit die nageslag van Dawid. Hy sal betroubaar wees: hy sal hom beywer vir wat reg is, hy sal reg laat geskied.”  (Jes. 16:5)  “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste.”  (Dan. 7:27) “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda.  In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid [die Messias] laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land.  In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon...In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.  In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.”  (Jer. 33:14-16; 3:17-18)

            In die lig van hierdie roerende beloftes van vrede en internasionale geregtigheid op aarde, behoort Christene op te staan teen die “hemele” wat deur prominente evangeliste aangebied word.  Vir Billy Graham is hemel ‘n plek ver verwyderd van hierdie aarde waarin omstandighede in werklikheid soos die pragtigste dinge op aarde gaan wees.  Ons doel in die hemel, volgens hierdie populêre leerstelling, sal wees om “hemelse maaltye voor te berei,” “met kinders te speel,” “na tuine om te sien,” of “reënboë blink te vryf.” 2 Maar waarom neem hy nie sy inligting uit die Bybel nie?  Hierdie “evangeliese” hemele is nie naastenby die herstelde aarde wat die profete vooruitgesien óf wat Jesus verwag het nie.  Jesus het nooit van belonings gepraat wat in die hemele, verwyderd van die aarde, geniet sou word nie – wat nog te sê van liggaamlose siele?  Hy het belowe dat, “wanneer alles nuut gemaak word [wanneer die skepping nuut gemaak word, Tanakh], as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat my gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer,” (Matt. 19:28, Nuwe Afrikaanse Vertaling, 1983) en hy het hierdie administratiewe rol genadiglik aan alle gelowiges voorgehou (Opb. 2:26; 3:21; 5:10; 20:1-6).

            Dit was Plato wat so suksesvol daarin was om die idee te bevorder dat die siel ‘n bewuste entiteit was wat die liggaam by die dood verlaat en dan na die hemel op reis gaan.  Maar filosofie is die groot vyand van die Christelike leer.  (Kol. 2:8)  Nes die Israeliete van ouds daarin gefaal het om die lokkrag van heidense godsdiens te weerstaan, netso het die Kerk ná die dood van die Apostels in die kloue van Griekse filosofie verval, waaruit hulle dringend gered moet word.  ‘n Tree sal in die regte rigting gegee word wanneer ‘n moratorium saamgeroep word oor alle prediking van “hemel toe gaan,” “siele wat die liggaam verlaat” en “by Jesus in die hemel te wees” voor sy Wederkoms.

            Die skuif van Hebreeuse na Griekse denkwyses het rampspoed vir die Apostoliese geloof voorspel.  Stelselmatig het verheidensing die leer van Waarheid weggekloof.  Daar was ‘n tyd toe Christelike woordvoerders alarm gemaak het oor die instroom van heidense filosofie wat as Christelike leer vermom is. Daarom het Justinus die Martelaar in 150 n.C. gewaarsku:  “As julle sommiges ontmoet wat sê dat hulle siele hemel toe gaan wanneer hulle sterf, moenie glo dat hulle Christene is nie.”3

            Vandag het eertydse dwaalleer verskanste kerkleer geword.  Die waarheid van die Bybel klink ontstellend vreemd vir vergrieksde gelowiges wat die Skrif lees, terwyl hul met hul een voet in die Bybelse teks en die ander in die wêreld van Platonisme staan.  Die terugkeer na die Bybel (naamlik, die studie van die Bybel om alles “noukeurig te ondersoek,” eerder as bloot ‘n Bybel te besit) sal goed vorder wanneer die woorde van bekende geleerdes ter harte geneem word, nie as akademiese waarnemings nie, maar as profetiese uitroepe vir ‘n radikale terugkeer na die Christelike geskrifte:

 

Die verskil tussen die gedagte-patrone van die Nuwe Testament en die meeste van ons gewone Christelike denke is ooglopend…Die verklaring vir hierdie teenstrydigheid lê in die feit dat geskiedkundige Christelike denke…Grieks, eerder as Hebreeus was.  Deur aan te voer dat dit op die Skrif gegrond is, het dit in teendeel baie skriftuurlike begrips-raamwerke opgegee en in stede daarvan Griekse weergawes daarvan aangeneem.4

 

Die hoop van die vroeë Kerk het rondom die opstanding van die Laaste Dag gehandel…Hierdie begrip van die opstanding het integraal daarmee ook die dood beskou as iets wat die hele mens affekteer…Dus is die oorspronklike Bybelse konsepte vervang met idees afkomstig van gnostiese hellenistiese (Griekse) dualisme…Die verskil tussen hierdie en die Nieu-Testamentiese hoop is baie groot.5

 

Ten Slotte

            Die woorde van Jesus waarin hy die sagmoediges belowe dat hulle “die aarde sal beërf” voorsien ‘n heilsame herinnering van hoe ver ons ons harte van hom verwyder het.  Ons kan in Jesus se Messiaanse beskouing deel deur te begryp dat die heerskappy deur die Messias en al sy heiliges nog nie begin het nie.  Dawid is steeds dood (Han. 2:29, 34), asook al die heiliges.  Hulle wag op ‘n opstanding tot die lewe in die komende Orde (Lukas 14:14; 20:35; 1 Kor. 15:23; Dan. 12:2) wat die duidelike wêreldwye heerskappy sal wees van Jesus en die getroues op die vernuwe, gesuiwerde aarde.  Mag daardie Bybelse “hemele” op aarde oral verkondig word as die kern van die Nuwe Verbond (Luk. 22:28-30)6 en die einddoel van God se plegtige eed aan Abraham in Christus.

 

Aanhangsel:  Wat die Geleerdes Sê

 

        Sommige besonders uitdagende stellings aangaande die dood in die lig van wat algemeen geleer word:

            Die hoog-geagde Interpreter’s Dictionary of the Bible:  “Geen Bybel-teks magtig die stelling dat die siel van die liggaam geskei word by die dood nie” (Vol. 1, bl. 803).

            Word die skeiding van die siel met die liggaam by die dood nie deur bykans elke kerk geleer nie?

            Die wel-bekende Britse teoloog en Bybel-geleerde, J.A.T Robinson, sê:  “Die onsterflikheid van die siel word bykans universeel as ‘n leerstelling van die Christelike geloof gekoester, ten spyte daarvan dat dit op bewerings berus wat wesenlik verskil van die Bybelse leer van die mens.”  (In the End God, Collins, Fontana Books, bl. 91) “Hemel word inteendeel nêrens in die Bybel gebruik as die bestemming van die afgestorwenes nie.”  (Ibid., ble. 104-105)

            Maar is “hemel” nie die term wat deur miljoene kerkgangers gebruik word as die plek waarheen hulle hoop om te gaan ná die dood nie?

            Die International Standard Bible Encyclopedia:  “Ons word altyd min of meer beïnvloed deur die Grieks-Platoniese idee dat die siel onsterflik is.  So ‘n idee is in uiterste teenstelling met die Israelitiese bewussyn en word nêrens in die Ou Testament gevind nie.  Die hele mens sterf wanneer die gees by die dood uit die mens gaan.  Nie net die liggaam nie, maar ook die siel keer terug tot die staat van die dood [dit is die geval van die getroue asook die goddelose dode – hulle almal slaap in die dood].  Daarom kan die Ou Testament van die dood van die mensesiel praat.  Die dood is ‘n plek van duisternis, afgesny van die land van die lewendes…Die dood is ook die plek waar God nie meer geloof of bedank word nie (Ps. 6:6, 115:17).  Die dood is waar die dode bewusteloos is, nie meer werk nie, niks in rekening bring nie, geen kennis of wysheid besit nie…Die dode slaap (Job 26:5; Spr. 2:18; 9:18; 21:6; Ps. 88:11; Jes. 14:9)” (Eerdmans, Vol. II, p. 812).

            Die Word Biblical Commentary oor Daniël:  “Die standaard wyse waarop die Ou Testament sterfte en terugkeer na die lewe beskou is deur daarna te verwys as neerlê en slaap, dan ontwaak en opstaan.  Die eersgenoemde [sterfte] is ‘n uiterse vorm van die laasgenoemde [neerlê en slaap] wat dus die metafoor daaraan voorsien (2 Kon. 4:31; 13:21; Jes. 26:19; Jer. 51:39, 57; Job 14:12).  Verder beteken die dood om saam met ‘n persoon se voorvaders in die familie-graf tot ruste te kom, met sy nie-fisiese ekwivalent Sjeool; daarom sal ‘n terugkeer na die lewe beteken om so ‘n ‘woning in die stof’ te verlaat (vgl.  Ps. 49; 73).  Die beeld veronderstel ‘n herstel tot lewe van die hele persoon met sy geestelike en fisiese eienskappe” (John Goldingay, Word Books, 1987, bl. 307).

            Hierdie manier om die dood te verstaan is ook ‘n profesie (Dan. 12:2) van wat gebeur wanneer ons sterf in die N[ieu-] T[estamentiese] periode en lateraan tot in ons dag.  Daar was geen verandering in die betekenis van die dood nie.  Slegs in Jesus is daar ‘n belofte van opstanding vanuit die dooie staat.  Dit sal gebeur wanneer hy terugkeer om die Koninkryk van God op aarde te vestig (1 Kor. 15:23 – “die wat aan Christus behoort [sal] by sy koms [lewend gemaak word]”).

            Gewilde idees wat in die kerk voorgestaan word het hierdie Bybelse begrip van die dood en opstanding verontagsaam.

 

 

 

 

* Tensy anders aangedui, word alle teksverwysings uit die Ou Afrikaanse Vertaling van 1953 geneem.

 

1 Hebrew and English Lexicon of the Old Testament, Brown, Driver and Briggs, Oxford: Clarendon Press, 1968, p. 174.

2 “What Heaven Is Really Like,” Hope for the Troubled Heart, Word Pub. Co., 1991.

3 Dialogue with Trypho, ch. 80.

4 H.E. Fosdick, A Guide to Understanding the Bible, Harper Bros., 1938, p. 93.

5 Dr. Paul Althaus, The Theology of Martin Luther, Fortress Press, 1966, pp. 143, 414.

6 Let op die woord “verbond” en die feit dat daar van God gesê word dat hy ‘n verbond met Jesus gesluit het om die Koninkryk van God aan hom te gee.  Die Jesuaniese verbond vervul dus die beloftes en verbonde wat met Abraham, Israel en Dawid gesluit is.


Return to Articles

Return to Home Page