Wie is Jesus?  God, of Unieke Mens?

 

of

 

Wat is in ‘n Klinker-teken?  Die verskil tussen God en die Mens

Anthony Buzzard

 

“Die vorm ADONI (‘my heer’), ‘n koninklike titel (I Sam 29:8)*, moet noukeurig onderskei word van die goddelike titel ADONAI (“die Here”) wat vir Jahweh gebruik word”

(International Standard Bible Encyclopedia, “Lord,” p. 157)

 

“Here in die OT is die vertaling van ADONAI wanneer dit na die Goddelike Wese verwys.  Die [Hebreeuse] woord…het ‘n agtervoegsel [met ‘n spesiale teken] blykbaar ter wille van onderskeiding” (Hastings Dictionary of the Bible, “Lord,” Vol 3, p. 137).

 

“Adonai en Adoni is verskillend in tekens om die goddelike verwysing van die menslike te onderskei” (Hebrew and English Lexicon of the Old Testament, Brown, Driver, Briggs, onder adon)

 

Dink gerus na oor hoe taal werk.  In Afrikaans is dit gladnie moeilik om te onderskei tussen HY en SY nie.  Die S-klank maak ‘n groot verskil.  Jy merk ook ‘n groot verskil op tussen god (kleinletter g) en God (hoofletter G).  Wat van “lug” en “lig”? Een letter of klank verander die betekenis.  In Hebreeus is die woorde vir hy en sy verskillend slegs in hul klinkers – “hoe” (hy) en “hie” (sy).

 

Min vrae is van groter belang as om the weet wie in die Bybel die reg het om God (hoofletter G) genoem te word.

 

In Hebreeus is daar ‘n woord vir “heer” of “here.”  Dit is ADON.  Die woord verwys 300 keer na mense-here (meerderes) en 30 keer na Die Here, d.w.s. God self.

 

Daar is twee baie spesiale vorme van hierdie woord ADON.  Soms word die letters –AI aan die einde bygevoeg, wat die woord na ADONAI verander.  Baie ken hierdie woord omdat dit in ‘n sekere lied met El Shaddai rym.  El Shaddai is ‘n ander naam vir die Ware God.  ADONAI beteken “die Opper-Heer.”

 

Die Woord ADON kan ook die letter –I as agtervoegsel dra wat die woord na ADONI verander.

 

In Psalm 110:1 het ons ‘n unieke vers.  Hierdie vers verskyn 23 keer in die Nuwe Testament.  (Ps. 110:4 word nog 10 keer aangehaal of na verwys.)  Die belangrikheid van hierdie verse word getoon deur die feit dat daar in die Nuwe Testament na geen ander skriftuur eers naastenby soveel keer verwys of aangehaal word as hierdie een nie.  Baie verse word een of twee keer aangehaal in die NT.  Maar hierdie verse – Ps. 110:1, 4 – word 33 keer genoem!  Ps. 110:1 is die sleutel tot die identiteit van God en Jesus, asook tot die komende Koninkryk.  (die kern van die Evangelie, Lukas 4:43; Handelinge 8 :12, ens.)

 

Jesus het hierdie vers aangehaal –  Ps. 110:1 (volgens Mattheus, Markus en Lukas) – as die vers wat die teen-argumente van die godsdiens-leiers van sy dag, die Fariseërs, weerlê het (sien Matt. 22:41-46).

 

Psalm 110:1 word in die NT soos volg aangehaal:

 

 

Hierdie Psalm dek die hele spektrum van die Nuwe Testament en Jesus haal dit nie minder nie as 8 keer aan.  Dit is ‘n gunsteling bewysplaas vir Christene van die Nuwe Testament.

 

Die Psalm is ‘n spesiale goddelike uitspraak.  Die teks lees (Ps. 110:1):  “Die Here het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand totdat ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

 

Die eerste “here” is die woord Jahweh/Jehovah wat in baie vertalings met Here vertaal word (voluit in hoofletters).

 

Die tweede “here” is ADONI (my Here).  Ons het reeds opgemerk dat die Hebreeuse woord ADON (heer of here) ‘n spesiale agtervoegsel het wanneer dit na die Ware God verwys – ADONAI (449 keer in die OT).  Maar wanneer die woord met –I eindig, d.w.s. ADONI (“adonie”), verwys dit nooit na God nie, maar altyd na ‘n mens in verhewe hoedanigheid (soms ook ‘n engel).  Daarom weet ons dat die Messias nie ADONAI (God) is nie, maar ‘n mens is, verhewe bo Dawid, Dawid se heer of Here, Adoni.

 

Daar word geglo dat hierdie Psalm die Messiaanse uitspraak is wat  deur beide Jesus en die rabbi’s van sy dag gebruik is.  Jesus het geweet dat hy, die Messias, Dawid se Here sowel as sy seun was.  Die Fariseërs was onwillig om Jesus as Dawid se Here te erken, alhoewel hulle geweet het dat hy die afstammeling van Dawid was.

 

Die Hebreeuse taal is spesifiek en die rabbi’s het altyd die hoogste agting gehad vir die naam van die Ware God.  Daarom het hulle die vorm ADONAI alleenlik in verwysing na God gebruik.  (Tot vandag toe lees die Jode die woord ADONAI wanneer hulle op die goddelike naam – Jahweh of Jehovah – afkom.  Niemand weet met sekerheid hoe die naam uitgespreek word nie, aangesien die Jode omstreeks 300 v.G.J. opgehou het om die naam uit te spreek.)

 

Nog ‘n Voorbeeld

 

Die OT het beperkte maniere om woorde te onderskei, wat hul betekenis daarom baie spesifiek maak.  Neem byvoorbeeld die woord AVEER (sterk of kragtig). Die New International Dictionary of OT Theology and Exegesis, Vol. 1, p. 232 sê:  “Daar word oor die algemeen geglo dat die twee vorme van die byvoeglike naamwoord AVEER in die OT gebruik is omrede die bewaarders van die teks (die Masorete) wou onderskei tussen die woord se gebruik in verwysing na Jahweh, en sy gebruik in ander kontekste…”

 

Wanneer dit nie in verband met die Ware God gebruik word nie, het die ‘V’ ‘n bykomende punte-teken, en moet die woord as ‘ABEER’ uitgedruk word.  ABEER (met die punte-teken) verwys altyd na ‘n magtige man, soms na dié met ‘n “brawe hart, ” eenkeer na ‘n engel, en soms na ‘n bul of ‘n fris perd.

 

Die afwesigheid van ‘n punt maak ‘n groot verskil.  AVEER verwys na God.  ABEER het ‘n nie-goddelike verwysing.

 

Dieselfde met die vorme van Here: ADONAI en ADONI.  ADONAI verwys alleenlik na die Ware God.  Geen mens word as ADONAI aangespreek nie.  Aan die anderkant verwys ADONI na menslike maghebbers.  Die Messias word ADONI genoem, Dawid se Here, maar nooit ADONAI, die Ware God nie.

 

Let op hierdie interessante feit.  Die Ou Afrikaanse Vertaling het ADONAI met Here vertaal (hoofletter H), maar het Jahweh of Jehovah as Here (hoofletters voluit) vertaal.

 

Op verskeie plekke vertaal dit ADONI, heer (kleinletter h), of meester.  Maar in Ps. 110:1 het dit Here met ‘n hoofletter weergegee.  Die woord wat so vertaal is, is nie ADONAI nie, maar ADONI.  Ander vertalings het hierdie fout reggestel en die woord as “here” (kleinletters) vertaal.

 

Jesus is ADONI die Messias, nie ADONAI, die Ware God nie.  Die Ware God is slegs een persoon.  Hoe weet ons dit (behalwe in Ps. 110:1)?  Die Ware God van Hebreeuse monoteïsme (die monoteïsme van Jesus, Markus 12:28ff.) word duisende kere deur persoonlike voornaamwoorde IN DIE ENKELVOUD (Ek, my, hom, u, my, sy) beskryf.

 

Die Ware God word as ADONAI (449 keer) van Adoni, ‘n mense-heer (195 keer) onderskei.  Dit gee ons 644 plekke waar ons die verskil tussen God en mens kan onderskei, gebasseer op die woord “here.”  Die Messias, Seun van God, word beskryf as Adoni, nie Adonai nie.

 

Enkelvoudige persoonlike voornaamwoorde vertel ons ‘n eenvoudige feit.  Hulle beskryf ‘n wese wat EEN PERSOON is, nie drie nie.  God is Een Enkelvoud en ‘n enkele Persoon.

 

“Daar is een God, die Vader” (Paulus, 1 Kor. 8:4, 6).  Daar is twee Here (Ps. 110:1).  Die Vader is die Enige Here God en Jesus is Messias die Here, die Seun van God (Mattheus 16:16).  Geloof in Jesus as die Messias, die Seun van God is die hoof-tema van Johannes se Evangelie (Johannes 20:31).  Dit is ook die hoof-tema van die Bybel.

 

Jesus beskryf ook die Ware God, sy Vader, as “die enigste waaragtige God” (17:3) en “die een wat alleen God is” (5:44).  “Die een wat alleen God is” is nog ‘n manier om te sê “die enigste een wat God is.”  Jesus praat van sy Vader.  As die Vader “die enigste een [is] wat God is,” en Jesus ‘n ander persoon, kan Jesus nie die enigste Ware God wees nie.

 

Glo jy ook soos Jesus dat die Vader die “enigste een is wat God is?” (Johannes 5:44)

 

Die Vader word 1326 keer God genoem in die NT.  Die woord “God” word slegs twee keer met sekerheid in verband met Jesus genoem.  Hou in gedagte dat verhewe mense ook in die eerste eeu G.J. soms “God” genoem is.  Dit is ook die geval in die Bybel.  Regters in Israel is “Gode” genoem (Ps. 82:6).  Jesus het hierdie vers gebruik om te demonstreer dat hy beweer het dat hy die Seun van God is, en nie God Self is nie (Johannes 10:34-36).

 

Psalm 2 is ‘n presiese parallel met Psalm 110:1.  In daardie psalm praat die Ware God Jahweh/Jehovah met “MY KONING/MY SEUN.”  Daardie persoon wat verskillend is van Jahweh/Jehovah soos enige seun verskillend is van sy vader, word ook “Die Here se Messias” genoem.  Dít is die Jesus van die Bybel:  die Seun van die Ware God, “die Here Messias” (Lukas 2:11), “die Here se Messias” (Lukas 2:26).  Let op dat God in die NT “die God van ons Here Jesus Christus” genoem word.  Dit behoort te toon dat hulle nie gelyk in ewigheid is nie!  Daar is Een Here God en een Here Messias.

 

In die Skrif is hulle twee onderskeie individue, wat ten nouste saamwerk.  Die Messias is die gehoorsame Seun van sy Vader, die Een God.

 

 

* Tensy anders aangedui, word alle teksverwysings uit die Ou Afrikaanse Vertaling van 1953 geneem.


Return to Articles

Return to Home Page